Eeueoue voetspore ontdek

DIE BURGER - 2011-01-21 Elsabé Brits, Kaapstad

Eeueoue voetspore van ’n groep Khoi-San, wat pragtig bewaar is, is in Namibië ontdek. Dit is voetspore van kinders wat agter vee aangeloop het en spore van talle wilde diere.
Die aanvanklike spore, slegs die derde groep gefossileerde mensspore wat nog in Suider-Afrika gevind is, is verlede jaar deur mnr. Fanie du Preez, ’n toergids en natuurliefbehebber van Kuiseb Delta Adventures, gevind.
Prof. Francis Thackeray, hoof van die Instituut vir Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), is dadelik soontoe saam met nog kenners van Brittanje en die VSA.

Thackeray het aan Die Burger gesê die spore is op twee terreine in die Kuiseb-delta suid van Walvisbaai gevind, maar om dit te bewaar, word die presiese plekke nie bekend gemaak nie. Werk daar is nog nie klaar nie en die terrein is baie sensitief, navorsers is veral bang mense ry met voertuie daaroor.
Die spore kan tussen 500 jaar en 1700 jaar oud wees, maar spesifieke analise moet nog gedoen word om seker te maak.

Op die een terrein (300m x 80m) is daar spore van buffels, hiënas, skape/bokke, beeste, jakkalse, olifante, kameelperde en verskeie voëls. Daar is verskeie spore van mense van verskillende ouderdomme en veral een staan uit: 70 spore van een mens wat wonderlik bewaar is.

Die tweede terrein is 2,5km verder en baie kleiner. “Dit is soos ’n enkele foto vasgevang in tyd toe ’n klein groepie kinders agter skape of bokke aangeloop het.”
Daar was tussen twee en vier kinders. Die kleinste kind was vyf jaar oud. Sy spoor was maar 100mm lank. Volgens die navorsers is spore van kinders taamlik skaars.

Thackeray het gesê die Kuisebrivier is elke tien jaar of meer in vloed, wat slyk en klei afvoer. Die tydelike water moes die Khoi-San en diere gelok het. Die mense en diere het daardeur geloop, maar dit het vinnig uitgedroog, die sand het dit bedek en dit het versteen. Soos die sand beweeg, lê dit die spore weer bloot.

Prof. Matthew Bennett van Bournemouth-universiteit, prof. Cynthia Luitkus van die Appalachian-staatsuniversiteit en me. Sarita Morse van die Liverpool-universiteit het hoë-resolusie skanderings van die spore geneem en vergelyk dit met verskeie ander. Dit is veral om die ontwikkeling van die menslike manier van stap te bestudeer.

In 1966 is menslike voetspore naby Oos-Londen by Nahoon gevind en in 1997 naby Langebaan in die Wes-Kaap. In albei gevalle is dit sowat 120 000 jaar oud.


Die navorsing verskyn binnekort in die nuusbrief The Digging Stick, nuusbrief van die Suid-Afrikaanse Argeologiese Vereniging en Du Preez word daarin geprys vir sy bydrae.